Hartwater

Inleiding

Hartwater is ‘n mikroörganisme wat in Suid-Afrika deur die Suid Afrikaanse bontbosluis (Amblyomma hebraeum) oorgedra word aan vee en wild. Vatbare diere vrek nie weens die hartwaterorganisme nie, maar weens die skade wat die organisme aan die endoteelselle in die bloedvate doen wat veral die hart, brein en longe bedien.

Bontbosluisspesies

In die Literatuur is daar sowat 12 spesies wat hartwater kan oordra, maar 3 spesies sou in Suid Afrika dit kon oordra. Hul is A. variegatum (Tropiese bontbosluis) , A. marmoreum (die skilpadbosluis) en dan die belangrikste bosluis, vektor, die inheemse A. hebraeum of Suid Afrikaanse bontbosluis.

Ander Amblyomma spesies wat sou kon, is spesie spesifieke bosluise en voed net op ander gashere vir oorlewing.  Hul is A. rhinocerotis wat op renosters voorkom, A. tholloni wat op olifante voorkom en dan vier bontbosluisspesies wat op reptiele soos skilpaaie en slange voorkom. Hul is A. Marmoreum, A. nuttalli, A. sparsum en A. sylvaticum.

Laasgenoemde bosluise lewe in simbiose met hul gashere en beide is interafhanklik van mekaar se voortbestaan. Hul doen mekaar nie skade nie. Hierdie bosluise stimuleer hul gasheer se immuunstelsel om te kan oorleef in hul omgewing.

Vatbaarheid

Alle herkouers wat hul oorsprong buite endemiese hartwatergebiede het, is vatbaar vir hartwater. Daar bestaan nie so iets soos permanensie of kruisweerstandigheid teen die organismes nie. Allsop (2002) het bewys dat wild soos elande, springbokke, lechwe, sitatunga en swartwildebeeste baie vatbaar is vir hartwater.

Subkliniese besmetting

Blesbokke kan ook hartwater opdoen, maar dit is raar. Blesbokke is gewoonlik saam met elande en kameelperde subklinies besmet met die hartwaterorganisme. Diere wat as subklinies beskryf word, het die siekte onder lede, maar toon geen sigbare tekens daarvan nie. Subklinies beteken dat die gasheer instaat is om die hartwaterorganisme met sy immuunstelsel suksesvol te kan onderdruk.

Hierdie diere word as “reservoirs” beskou wat bontbosluise met die hartwaterorganisme besmet. Die hartwaterorganisme word nie in die eier oorgedra van die bosluis nie. Die bosluis word besmet op gasheer wat die organisme onder lede het. Oordraging van die organisme na ‘n ander gasheer vind dan plaas in die nimf of volwasse stadiums van die bosluis.

Besmetting vervaag ook oor ‘n tydperk as die draer nie aan besmette bosluise blootgestel word nie.

Kenmerke

Die bontbosluis is ‘n 3-gasheerbosluis parasiteer op kleinwild, grondlopende voëls en reptiele. ‘n Jong bontbosluismannetjie voed 6 -7 dae op ‘n gasheer voordat dit geslagsryp word. ‘n Bontbosluiswyfie sal nie op ‘n gasheer klim as daar nie ‘n volwasse mannetjie teenwoordig is wat feromone afskei nie.

Klimaatsomstandighede

Temperatuur en vog speel in hul lewensiklusse ‘n belangrike rol.In ideale omstandighede kan  ʼn bontbosluis sy lewensiklus in 3 tot 5 maande kan voltooi. Indien omstandighede nie ideaal is nie sal die bosluis in ‘n rustydperk ingaan, bekend as diapause  en kan die voltooiing van sy lewensiklus tot  3 jaar uitstel.

Bontbosluise kan nie in aangeplante weiding en oop grasvelde oorleef nie en verkies bos en bergvelde. ‘n Bontbosluiswyfie lê tussen 18,000 en 20,000 eiers. Baie groot getalle broei vroeg in die lente na die eerste goeie reëns uit.

Die 6-potige larf soek ʼn gasheer, voed tussen 9 en 14 dae. Val af en omvorm binne die huid na ‘n 8-potige nimf. Vind daarna ‘n gasheer, voed vir 9 tot 14 dae, val af en omvorm in ‘n volwasse bosluis.

Voorkeure

Bontbosluise verkies haarlose plekke aan hul gasheer se liggaam, soos geslagsorgane, spene, lieste, oksels en peri-anale gebiede.

Ekonomiese impak

Die Literatuur wil beweer dat minder as 7% van die bosluise met die hartwaterorganisme besmet is. Dit beskryf hul speeksel is uiters toksies. Sou 10 wyfies hul lewensiklus per dag voltooi oor ʼn tydperk van 3 maande, kan dit ‘n verlies van tot 20kg per dier meebring.

Kenmerke van hartwaterstamme

Daar is in SA verskeie hartwaterstamme wat individueel antigenies is, wat verskillende immunologiese teenreaksies by individuele diere ontlok. Verworwe verdraagsaamheid teen een hartwaterstam beteken nie outomatiese verdraagsaamheid teenoor ander hartwaterstamme nie.

Die genetiese en immunologiese vermoë van herkouers is belangrike eienskappe om hulself teen die hartwaterorganismes aan te pas. Diere wat uit ander hartwatergebiede kom wat se serologiese status onbekend is, moet baie kundig bestuur word. Hartwaterstamme kan vermeng om ‘n nuwe stam te vorm wat ‘n eie, unieke karakter en virologie het waarteen geen gevestigde herkouer weerstand teen het nie.

Die inkubasieperiode vanaf besmetting tot die eerste siektetekens wissel tussen herkouers. Merck Veterinary Manual beweer dat die hartwaterorganisme ook vertikaal deur kolostrum na die kalf oorgedra kan word.

Endoteelselle

By besmetting met die hartwaterorganisme val die organisme die endoteelselle van bloedvate aan wat lei na die hart, longe en brein.

Endoteelselle het ‘n reaktiewe funksie as responsreguleerder by inflammatoriese infeksies wanneer skadelike organismes die liggaam binnedring. Dit reguleer ook leukosiete om by wondheling te help, Dit speel ‘n aktiewe rol by die herstel van beskadigde bloedvate, reguleer die Ph in die bloed, die absorbering van minerale en is funksioneel by die uitskeiding van liggaamlike afvalstowwe.

Die hartwaterorganisme beskadig die endoteelselle en ‘n toestand van deurlaatbaarheid ontstaan in die bloedvate, wat tot gevolg het dat liggaamsvloeistowwe en gasse deur die bloedvate se membrane lek. Beskadigde bloedvate laat vog soos ‘n sif deur die bloedvate sypel wat om die hart, brein en longe versamel. Diere vrek dus nie weens die organisme nie, maar weens die beskadiging van die endoteelselle in die bloedvate.

Leave a Reply

Discover more from dipmasterblog

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading